| |
Hermanus Times-Kalfiefees
Augustus 2004
BALLE
deur Saartjie Botha
met Nina Swart,
Neels van Jaarsveld,
Lorraine Burger en
Altan Ungerer
Regie: Christine Truter
Op ‘n Vrydagaand om die pool-tafel verken twee jong paartjies hul
verhoudings. Terwyl daar bier gedrink en bolangs geskerts en geklets
word, woel die emosies. “Balle bied ‘n blik op die sosiale dinamiek van
eietydse jong couples en hul eiesoortige onsekerheid rondom permanente
verhoudings. Pool word ‘n bokskryt, word voorspel, is parodie,” lui die
persverklaring. Balle is ook reeds by die KKNK en by die Volksbladfees
opgevoer. Dit bied mense ook die geleentheid om met nuwe, jong akteurs
kennis te maak. Nina Swart het al bekendheid verwerf as Willemien in die
sepie 7de Laan, en wys wat sy op die verhoog kan doen, terwyl Neels van
Jaarsveld ‘n Slurpie gewen het vir sy vertolking van Uys Krige in Die
Goue Seun en in Spanner. Lorraine Burger was al te sien in die
suksesvolle Raaiselkind en Altan Ungerer in Macbeth.
NIPPLE CAPS EN G-STRINGS
deur Deon Opperman
met Gigi
Regie: Deon Opperman
Dit is ‘n stuk vir volwassenes hierdie. Op die oog-af is dit ‘n
ondersoek na seksualiteit erotika en sensuur in Suid-Afrika; na die lewe
van ‘n ontkleedanseres, en dit kan vir sommige mense skokkend wees.
Diegene wat egter die werk van Deon Opperman, een van Suid-Afrika se
voorste dramaturge, ken, sal weet hy hou hom nie met ydel woorde besig
nie. Nipple Caps en G-strings is dan ook baie meer as ‘n vertoning wat
met die can-can begin en met ‘n kaal vrou op die verhoog eindig. “Dit is
‘n ernstige uitbeelding van ‘n onderwerp van uiterste relevansie vir
elke mens,” lui die beskrywing van die dramaturg. En die rede vir
hierdie relevansie is inderdaad die één ding waarmee alle mense spook,
naamlik die liefde. Hoe eerlik is mense werklik in hul liefdes- en
seksuele verhoudinge? Steek mense nie maar altyd iets vir mekaar weg nie
en staan hulle dus nooit werklik naak voor mekaar nie. En wat gebeur as
een van die twee in ‘n verhouding die dag besluit om eerlik en “kaal” te
wees?
OP DIE VROU AF
met Pedro Kruger en
Sarah Theron
Teksverwerking en regie: Hennie van Greunen
Geborg deur SARIE
Hierdie heerlike stukkie musiekteater is gegrond op André le Roux se
vlymskerp en skreeusnaakse waarnemings in sy SARIE-rubriek Op die vrou
af. Hierdie gewilde rubriek het al meninge paartjie laat dink: Maar dis
mos óns daai! Nou het die veelbekroonde storieverteller Henne van
Greunen ‘n klompie van dié draadsteek-geskrifte herinterpreteer vir die
vehroog. En in dié realiteitsitkom vol kookwatermusiek is niemand minder
nis as die vurige diva Sarah Theron (alias Baby Botha in Egoli) en die
storieverteller, sanger, akteur, pianis en liedjieskrywer Pedro Kruger
te sien. Venus en Mars? Ga! Vroue shop en pak te veel in, mans praat en
dink te min. Viagra en Prozac! Ja, en veral die prozac is dalk agterna
nodig vir die gehoor, want dit is werklik ‘n opwindende ervaring.
Hierdie produksie was by die KKNK baie gou uitverkoop en talle
feesgangers moes teleurgesteld omdraai. Bespreek dus vroeg.
K
deur Hennie van Greunen
met Trix Pienaar en
Margit Meyer-Rödenbeck.
Regie: Hennie van Greunen
Die oumense het altyd van kanker gepraat as die groot K of die “siekte”
omdat hulle dit nooit by die naam wou noem nie. Ja, hierdie stuk handel
oor die groot K, maar lanklaas is hierdie onderwerp met soveel deernis,
soveel insig en soveel humor benader. Gehore by die KKNK het geskater en
as’t ware met ‘n gevoel van bevryding uitgestap. Trix Pienaar speel die
rol van ‘n eksentrieke en bevryde vrou met terminale kanker wie se
konserwatiewe dogter, Margit Meyer-Rödenbeck, teësinning huis toe kom na
alles wat sy van weggevlug het. Maar sy kry meer as ‘n sterwende ma by
die huis. Wel ‘n ma wat nog vol grappe is, wat haar prostetiese bors
baie akkuraat as missiel kan gebruik en ‘n ma wat haar sitkamermuur met
lirieke bekrap het. Dit is ‘n diep ontroerende ervaring om te sien hoe
twee vroue mekaar vind nadat hul paaie uiteengeloop het, en op ‘n manier
verloor die dood sy angel en die groot K sy angs. Nog selde het gehore
hulle so meegeleef as met hierdie verhaal wat eintlik aan almal bekend
is omdat so baie reeds die groot K beleef het, hetsy aan eie lyf of deur
die lyding van ‘n geliefde. Dit is ‘n stuk wat niemand behoort te mis
nie.
‘N AAND SAAM MET AMANDA
– ‘N VUUR GESTEEL BY DIE GODE
Aan Amanda Strydom is daar nou geen keer nie. Sy het pas by die KKNK die
SARIE-Kanna gewen vir die Afrikaanse vrou wat feesgangers die meeste
geïnspireer het. Op die ouderdom van 48 het sy iets heeltemal nuuts fees
toe gebring en behoorlik gerock in haar program Verspreide buie/Scattered
Thunder. Verspreide buie is haar negende CD en het reeds twee
Geraas-pryse gewen, naamlik vir beste solokunstenaar en beste volwasse
kontemporêre album. Pas het sy ook die Suid-Afrikaanse Musiektoekenning
gewen as die beste kontemporêre Afrikaanse kunstenaar. Haar program by
die KKNK is deur SARIE geborg, wat ook ‘n bydrae tot haar optrede by die
Kafiefees lewer.
Amanda Strydom sing met ‘n nuwe oorgawe en ‘n wasdom wat sorg dat elke
emosie, elke nuanse ‘n mens so fyn op die oor val dat haar optrede ‘n
belewenis word wat niemand gou kan vergeet nie. ‘n Bundel met haar
liedtekste, Kaalvoet, het ook pas by genugtig! verskyn en bevat van die
beste lirieke van haar loopbaan.
In sy nawoord in hierdie bundel skryf Hennie Aucamp: “Vriende, ek nooi u
om ‘n glasie wyn op Amanda Strydom te klink. Kantel die glasie teen die
lig en kyk mooi: die wyn hou, soos Amanda self, ‘n vuur gevange. ‘n Vuur
gesteel by die gode.”
Sussie is nou suur
met
Marion Holm
Regie: Hennie van Greunen
Mense word vooraf gewaarsku: Moenie hierdie produksie kom bywoon as jy
blaasprobleme het nie, want Holm se stories en sketse is humor op sy
beste, veral goeie Afrikaanse humor. Sy laat die gehoor van die begin af
skaterlag. Holm is bekend vir haar deelname aan die Casper Rasper Snow
en Haak & Steek. Saam met Pedro Kruger het sy ook op die verhoog verskyn
in Anna se engel en in Jong Dames Dinamiek saam met Margit Meyer-Rödenbeck
( ofte wel Dowwe Dolla). Laasgenoemde speel ook saam met Trix Pienaar in
K.
Die Kaapse Filharmoniese Orkes
Die Kaapse Filharmoniese Orkes
kom vir die eerste keer oorkant die berg speel en dit is dus ‘n
besondere voorreg wat niemand moet misloop nie. Die Filharmoniese Orkes
is een van die spogprodukte van die Kaap. Dit is in die begin van 2001
gestig nadat Kaapstad se vorige orkes ontbind het. Sedertdien het die
orkes ‘n baie goeie reputasie opgebou en het dit tot 100 konserte ‘n
jaar met van die voorste plaaslike en internasionale dirigente en
soliste.
In ‘n program van sowat 70 minute gaan die orkes by die Kalfiefees werke
speel van Grieg, Smetana, Bizet, Wagner, Tsjaikofski en Von Suppe. Die
volledige program sal later aangekondig word.
Die Hangkas Haas
met Dorette Potgieter,
Thomas Channell,
Cornel van Zyl,
Melanie le Roux en
Robert Koen.
Regie: Marion Holm
Musiekregie: Pedro Kruger
Hierdie gay kabaret is al in onder meer Die Burger as ‘n roerende
ervaring beskryf en het by die KKNK vol sale getrek. Dit gee ‘n kykie in
die gay gemeenskap – die lipstick lesbians, die die gay mafia, die drag
queen en die club queen.
Dit het ‘n gedugte span medewerkers. Die teks is deur Hennie van Greunen,
terwyl Pedro Kruger bekend is as sanger, akteur, liedjieskrywer en
Liriekeraai-spanleier. Marion Holm is ook geen onbekende nie (sien
Sussie is nou suur hierbo). Dorette Potgieter was pas te sien in die kyk-Net-reeks
Plek van die vleiseters, terwyl die uiters talentvolle Thomas Channell
pas ‘n Fulbright-beurs gewen het om in Amerika verder te gaan studeer.
Hy was voorheen te sien in Last twist at the Blue Moon Hotel en Baas en
Klaas en sy eerste CD het pas verskyn.
Boy from Bethulie
met
Patrick Mynhardt
Dit was verlede jaar vyftig jaar dat die nou 71-jarige Patrick
Mynhardt sy akteursloopbaan begin het. Sedert daardie tyd het hy in
letterlik honderde produksies, rolprente en TV-prente opgetree, en nie
net in Suid-Afrika nie, maar ook in twee
West End-produksies en verskeie internasionale rolprentproduksies. Hy
het op verskeie plekke in Europa, Amerika en selfs in Israel opgetree.
In Suid-Afrika het hy in die afgelope paar dekades veral bemind geraak
weens sy vertolking van die verhale van Herman Charles Bosman. Boy from
Bethulie vertel die verhaal van die jong Mynhardt se reis van sy
geboortedorp tot die internasionale verhoog en verder. Hy kan spog met
al die mense wat hy geken het, al die ervaringe wat hy gehad het, maar
dit is in die laaste instansie ‘n reis na binne wat hy met kenmerkende
eerlikheid en humor onderneem. Boy form Bethulie is ook pas in boekvorm
uitgegee deur Wits University Press.
|
|
 |
|
| |
|
BESPREKINGS |
Kaartjies Kantoor
Tel: 028-3161687 |
| |
|
|